WIE IS ONS

Garsfontein Youth Upliftment be-oog om hoop te gee vir gebroke jongmense wat ‘n tweede kans nodig het. Meeste bestaande kindersorg fasiliteite fokus op jonger kinders en is onwillig en dikwels nie in staat om tieners in nood in te neem nie. Die Garsfontein Tienerhuis wil graag vir so ‘n groep jongmense ‘n tuiste skep wat in hulle fisiese, emosionele en geestelike behoeftes voorsien.

Fisiese versorging van die jongmense is vir ons baie belangrik, aangesien dit ‘n primêre behoefte tot oorlewing is. William Booth het immers gesê: “Jy kan nie vir iemand van God se liefde vertel as hy ‘n leë maag het nie.” Egter meer belangrik nog as die skep van ‘n fisiese tuiste vir hierdie jongmense, is dat hulle ‘n nuwe gesin sal vind waar hulle liefde en aanvaarding beleef. Die kern van ons bediening gaan dus nie oor liefdadigheid nie, maar oor gemeenskap (‘community’). ‘n Plek waar jongmense bemagtig word om te groei tot geestelike volwassenheid en emosionele heelheid.

DIE ONTSTAAN VAN DIE GARSFONTEIN YOUTH UPLIFTMENT

Die Here verras ons telkens! ‘n Paar jaar gelede het Garsfontein Gemeente ‘n doelbewuste strategiese skuif gemaak om in wese ‘n missionale gemeente te wees. Ons het die volgende visie aanvaar: Waar die Stroom vloei, daar is lewe (Eseg 47). Ons het toe as gemeenteleiers vir die Here gevra: hoe kan ons meer betrokke raak by ons gemeenskap?  Ons wil graag ‘n missionale gemeente wees in ons samelewing. Die antwoord het redelik vinnig gekom. Hy stuur Mnr Eùgené Laäs  (Bestuurshoof : Leerderaangeleenthede by die Hoërskool Garsfontein)  oor ons pad om die behoefte aan ‘n huis vir weerlose hoërskooldogters op ons harte te plaas. Ons het almal dadelik geweet dit moet van die Here wees. Die reis wat ons saam daarna aangepak het, het dit oor en oor bevestig. Nadat ons met die gemeente gesels het oor so ‘n moontlikheid, is daar binne ‘n dag vir ons ‘n huis aangebied. Al hierdie dinge kom net van Bó! So het die reis begin aan die einde van 2013.  Ons het gewonder hoe dit gaan uitwerk, ons het so min geweet – maar baie kers opgesteek by Echo in die Moot,  asook ander instansies.  Wat ons persoonlik deurgaans gemotiveer het, was die wete dat Jesus dit ook sou gedoen het – ons is besig met Jesus se werk. Hy het omgesien na die weerloses – hy het ‘n spesiale plek vir mense wat vanweë moeilike omstandighede swaarkry en dikwels ‘n agterstand beleef. Die Here seën ons sodat ons weer ander kan seën met ons liefde, tyd en sorg. Ons is so bevoorreg in baie opsigte en ontvang so baie van die Here. Hy wil hê ons moet ‘n hart ontwikkel vir die noodlydendes om ons – Sy hart. Hierdie projek is deel van Garsfontein Gemeente se groot hart van liefde. Ons glo dat hierdie hart al hoe groter sal word en dat meer en meer mense met hierdie hart sal identifiseer. Die stroom van God se liefde neem ons saam op ‘n opwindende reis.  Aan die Here al die eer!

 

Teen die einde van 2018 is besluit om ons aandag meer toe te spits op die nood onder jongmense in die Garsfontein omgewing, en is ons naam verander na Garsfontein Youth Upliftment. Ons werk nou saam met die maatskaplike personeel van Laerskool- en Hoërskool Garsfontein, asook die plaaslike CMR om weerlose jongmense in ons omgewing te ondersteun en versorg.